
Aanbidding is die individu se reaksie in sy of haar gees tot die enigste ware God. Tog vind hierdie reaksie of ervaring meer dikwels plaas wanneer individue in ʼn gemeenskaplike omgewing vergader is. Ons praat van ʼn “aanbiddingsdiens” en in ʼn sekere sin behoort dit ons rede te wees om kerk toe gaan.
Ek hou van Hosea 14:3: “…dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied” (1953-Vertaling). In plaas van ʼn offerdier, bring ons ons lippe as die ‘offerdier’ (die oorspronklike Hebreeus praat van “…die kalwers van ons lippe”). Wanneer mense in ʼn aanbiddingsdiens byeenkom kan ons ʼn verskeidenheid van gesindhede verwag, want dis nie aanbidders wat vergader nie, maar mense wat in aanbidding ingelei moet word. Die gesindheid om ʼn offergawe te bring kan ʼn bewustheid van God skep, en dit sal die uitdrukking van korporatiewe aanbidding aanvuur.
– Nevil Norden