Visie | Lewende Woord
Die vestiging van ‘n liefdevolle Woordgefundeerde Koninkrykgemeenskap.
The establishing of a loving Word based Kingdom community.
Missie | Lewende Woord
Om ‘n passievolle dader van die Woord van God te word.
To become a passionate doer of God’s Word.
Kernwaardes | Lewende Woord
Liefde en Genade
- Ons sal ten alle tye God se gesindheid van liefde en genade teenoor alle mense openbaar.
Eenheid
- Ons is voortdurend daaraan toegewy om onderlinge Goddelike eenheid te bewaar en enigiets te vermy en teë te staan wat onenigheid en verdeeldheid bevorder.
Toewyding
- Ons gee ons algehele toewyding en getrouheid aan die visie, missie en kernwaardes van Lewende Woord.
Respek
- Ons ag elke persoon as in die beeld van God geskape te wees en glo dat onvoorwaardelike liefde en respek aan hulle betoon behoort te word, ongeag van hul geslag en kulturele of sosiale status.
Diensbaarheid
- In alles wat ons doen openbaar ons 'n gesindheid van nederigheid en diensbaarheid.
Integriteit
- Ons sal ten alle tye in eerlikheid, opregtheid en integriteit ten opsigte van ons verhoudinge, finansies, tyd, hulpbronne en verantwoordelik-hede wandel.
Lewende Woord se
Embleem Verduideliking
LW se leierskap het die behoefte vir die modernisering van die LW embleem besef. Die modernisering moes egter nie so drasties wees dat dit die kontinuiteit met die ou embleem sou verbreek nie.
Die nuwe embleem spreek steeds van die Woord en die Kruis, maar met die woorde wat van die grafiese vorms geskei word om ‘n sterker herkenbare embleem te vestig. Die teks kan nou onder of langsaan die embleem gebruik word en die embleem kan ook apart van enige teks gebruik word.
Die Kruis omarm die Woord – die Kruis en die Woord werk saam en kan nooit geskei word nie. Die omarming spreek sterk van die “lewende” in Lewende Woord; dit spreek van dinamika, van beweging. Nooit is die Kruis staties nie – dit daag altyd uit, dit nooi ons altyd tot ‘n ontmoeting, selfs konfrontasie met die Weg, die Waarheid en die Lewe – Jesus Christus. Die kuis is rooi – Jesus was volkome mens, gebroke en verskeur op die Kruis – Sy bloed was rooi toe dit in die Kruis ingesypel het. Rooi spreek van passie (Hooglied 8:6-7) en liefde (Joh. 3:16) en lewe (Joh.15:13). Verder spreek die omarming ook van LW se kernwaardes: veral eenheid, liefde en genade.
Die Woord is blou, die kleur van Koninklikheid. Die Woord beeld die Here se genadige koningskap in ons lewe uit (Rom. 2:4). Jesus is die Lewende Woord (1Joh. 1:1; Joh. 1:1-3). Jesus is ons Koning!
Laastens die teks: “Lewende Woord” in Afrikaans in vetdruk gewone letters wat modern vertoon, en dan LIVING WORD in Engels onder in donkergrys uitgerekte hoofletters sodat ‘n internasionale of Engelstalige gehoor dadelik sal verstaan wat Lewende Woord beteken. Die Kruis uiteraard, as internasionale simbool, spreek van die persoon van Jesus Christus van Nasaret. Die Kruis versinnebeeld dus Jesus en saam met die Woord het ons Jesus, die LEWENDE WOORD.
Lewende Woord Geloofsbelydenis
Dit is belangrik om jou kerk se geloofsbelydenis te ken aangesien dit die grondslag is van alles wat ons glo.
-
1. Ons glo in die oorspronklike geskrewe, God geïnspireerde Ou- en
Nuwe Testament. Ons aanvaar dit as die hoogste en finale gesag vir geloof en ’n oorvloedige lewe (Joh. 1:1 en 14; Joh. 10:10, Heb. 4:12). -
Ons glo in een God (Mark. 12:29), wat vir ewig bestaan as drie
persone: Vader, Seun en Heilige Gees (1 Joh. 5:7; 1953-vertaling). -
Ons glo in Jesus Christus wat van God ontvang en deur die Heilige Gees verwek is, en gebore is uit die maagd Maria. Hy is waarlik God en het waarlik mens geword (Matt. 1 en Heb. 2:14).
-
Ons glo dat God die mens na Sy eie beeld geskape het (Gen 1:27;
Ps. 8:6). Deur te sondig het die mens die straf van die sonde, nl. fisiese en geestelike dood, in werking gestel (Gen. 3:15-23; Rom. 5:12 en 19). -
Ons glo dat Jesus Christus, volgens die Skrif, vir ons sonde as plaasvervangende offer gesterf het, en dat elkeen wat in Hom glo geregverdig is op grond van Sy gestorte bloed (Openb. 5:9).
-
Ons glo dat Jesus Christus fisies opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel en dat Hy nou as ons Hoërpriester en Advokaat leef (1 Kor. 15; Matt. 28).
-
Ons glo in die persoonlike wederkoms van ons Here Jesus Christus (Joh. 14:28; Matt 25:31; 1 Kor. 15).
-
Ons glo dat almal wat Jesus Christus deur die geloof aangeneem het, en hulle van hulle sonde bekeer het, deur die Gees wedergebore is en daarom kinders van God genoem kan word (Joh. 1:12; Joh. 3:3; 1 Joh. 5:12).
-
Ons glo in die Doping in die Heilige Gees, met die gepaardgaande bonatuurlike Gawe van die Heilige Gees, wat gelowiges met krag toerus vir hulle dienswerk. Ons glo in die Godsingestelde bedieninge van die Apostel, Profeet, Evangelis, Herder en Leraar (Mark. 16:17; Hand. 2:38,39; Efes. 4:11).
-
Ons glo aan die beginsel dat ‘n persoon in gesag staan omdat hy of sy aan gesag onderwerp. Met dit in ag genome sal lidmaatskap onderhewig wees aan onderwerping aan die kerklike gesag met betrekking tot sake soos die bestuur, doktrines en persoonlike gedrag (1 Tim. 5:17-25; 1 Kor. 16:15-16).
-
Ons glo in die opstanding van beide die regverdige en die onregverdige, die ewige geseëndheid van die vrygekooptes en die ewige verbanning van almal wat die gawe van verlossing verwerp het (1 Kor. 15; Openb. 21).
-
Ons glo dat die een ware Kerk almal insluit wat gered is deur Jesus Christus en wedergebore is deur die Heilige Gees, en dat die Kerk op aarde sy karakter op hierdie geestelike beginsel moet hou en moet bou. Wedergeboorte en persoonlike belydenis van Jesus Christus is dus noodsaaklik vir kerklidmaatskap (Hand. 2:47).
-
Ons glo in die waterdoop en die Heilige Nagmaal, wat onderhou moet word as ‘n daad van gehoorsaamheid en voortdurende getuienis van die Christelike geloof. Die waterdoop is ‘n onderdompeling van die gelowige in die water as ‘n belydenis en identifisering met die begrafnis en opstanding van Christus. Die Heilige Nagmaal is deelname aan die elemente van die Tafel van die Here, wat die gebroke liggaam en gestorte bloed simboliseer, in herinnering aan Sy offerdood totdat Hy weer kom (Mark. 16:16, Matt. 28:19; Hand. 2:38; Luk. 22:19-20; Rom. 6:3-4; Kol. 2:12).
-
Ons glo dat daar vir goddelike genesing voorsiening gemaak is in die Ou en Nuwe Testament en dat dit ‘n integrale deel vorm van die Evangelie (Jes. 53; Hand 5:12; Mark 6:13; Joh. 14:12).
-
Ons glo aan die leerstelling van die Bybel wat sê dat geen mens God sal sien sonder Heiligmaking nie. Ons glo dat hierdie leerstelling van Heiligmaking ‘n definitiewe en progressiewe proses van genade is, wat by wedergeboorte begin en sal voortduur tot by die voltooide werk van verlossing (1 Pet. 1:15 en 16; 1 Kor. 1:30; 1 Thess. 4:3 en 7; Rom. 6:19; Heb. 12:14).
-
Ons glo in heteroseksuele verhoudings tussen ‘n natuurlike man en ‘n natuurlike vrou binne die grense van ‘n wettige huwelik (Rom. 1:26-27; Gen 1,2 en 3; Matt. 19; Mal. 2).
Aansluitend met hierdie stellings, aanvaar ons dat die Kerk (en ons gemeente) ontvanklik en leerbaar is vir enige verdere waarhede wat die Heilige Gees uit die Woord mag openbaar.
Groei in jou roeping...
As gemeente glo ons daarin dat alle gelowiges vir dienswerk toegerus moet wees. As kind van God is jy geroep om mense te bedien, om ander te inspireer en hulle die pad na Jesus te wys. Om jou te help groei sodat jy weer ander kan toerus en help groei, het ons 'n hele aantal opleidingsgeleenthede en kursusse wat binne ons gemeente aangebied word.



